Ek is ‘n middag pappa. Dit beteken dat ek na ‘n kind kyk in die middae na skool terwyl mamma werk.
Dit is nie my kind nie, maar voel soos my eie. Ouma het na haar gekyk van baba dae af en toe ouma skielik sterf het ek besluit om haar taak verder te neem.
Nou op 40 is ek ‘n geswore batchelor. Ek hou van dinge doen net soos ek wil en wanneer ek wil. Groot was die aanpassing om skielik ‘n mens in gedagte te moet hou in alles wat ek doen, maar ek moet sê, dit is geen opoffering nie. Die moelikste is daai besige handjies. Vir jare weet ek waar ek alles neergeist het en kry dit dadelik – nou soek ek myself dood na alles wat skielik in my huis rondstap.
Maar op 40 leer ek weer soos ‘n kind te lag en te speel, sien ek deur haar oë hoe verward die wêreld vir hulle is. Sy inspireer my as sy deur die tuin loop en sing, laat my hart skeur as groot blink trane oor Ouma afrol en laat my lag met haar lawwe grappies. Saam pak ons allerhande projekte aan, sit en kyk wolke en nou sterre deur haar teleskoop wat ek haar vir haar verjaardag gegee het.
Niks klop daai: “wow’ as sy iets nuuts sien nie. Sy is 9 jaar oud en bogemiddeld begaaf. Lees is haar stokperdjie en as sy die dag aan die babbel gaan, klink dit of dit ‘n grootmens is wat gesels. Vrae wat ek die antwoord nie van ken nie word nageslaan en opgelees op die internet.
Dankie sus, dat jy genoeg vertrou om jou kind te help grootmaak. Ek leer haar my kant van die lewe en dat sy nooit ooit hoef te twyfel in haarself nie. Dis cool om anders te wees. Soms is ek kwaai en ander kere kom sy met moord weg, maar altyd is daar die drukkies en liefde.
Daar gaan nie ‘n week om dat sy uit die bloute sal sê: Dankie dat oom Kalla al die pad uit die Kaap gekom het om na my te kyk nie. Dan snik ek hier diep binne, want my lewe beteken ook nou iets meer as werk.
Nou wonder ek – is daar nog middag pappas daar buite ?


