Wat ‘n lekkerte om weer ou vriende raak te bel. Na ‘n soektog van etlike jare, het ek hom weer opgespoor. En sommer naby my ook.
Vinnig is daar vertel wat tans aangaan in ons lewens, kom die skokke deur van sterftes en hartaanvalle oorleef te hoor. Tussen die gepraat luister ek of ek nog my ou vriend kan hoor – die een met die duisend planne, grootse drome en vinnige lewenspas.
En ja, hy is nog net soos ek hom 12 jaar gelede gegroet het. Jaag van plan tot plan, druk elke oomblik van die dag uit soos ‘n lemoen. Lekker. Die bekendheid van sy stem laat my hart vies word vir myself. Hoe kon ek hierdie spesiale mens uit my lewe laat gaan het?
Dan lag ons weer lekker oor ou tyd se dinge en ek besef dat ons nou weer baie te vertel het, groot stuk lewe het om oor te besin. Daar diep binne my begin die nostalgie van ‘n dekade wat verby is, uit te klim.
Kort voor lank sit ek op my stoep en blaai deur ou foto albums. Breed lag al die mense uit my verlede na my toe. Party sal ek nooit weer sien nie soos my lieflike ouers wat nou in die hemel nes skrop. Ander kan ek seker soek, maar daar is geen begeerte nie. Party is nog hier naby my.
Elke gesig bring ‘n groot verhaal wat verantwoordelik was vir die persoon se foto hier in my album.
Ek skud my kop en sluk tee af. Nee wat, die verlede is verby – nou net vorentoe.