Kan ons saamstaan?

Met al die gebeure in die politieke arena en al die moontlikhede wat dit bring, va ek myself – kan ons saamstaan as nasie?

Dit is tog duidelik dat ons dieselfde doel nastreef – regverdige regering wat demokrasie uitleef. Selfs in ‘n land soos SA wat seker die mees liberale demokrasie in die wereld is, word ons soms in ‘n hoek gedruk. Maatskappye soos Vodacom – wat nie Suid Afrikaans in oorsprong of ledebelang is nie, maw wat deur buitelanders beheer word, kondig aan dat slegs swartes hule nuwe aandele mag koop.

Nie een blanke gaan swaai eers een plakkaat voor hul deure nie, nie een gooi sy Vodacom kaart weg nie. Nee, eerder laat ons ons koppe sak en verdra maar die onreg. Hoekom? Voel ons dan nogsteeds skuldig oor die verlede of is ons so skeit bang vir vervolging/rassisme/onverdraagsaamheid dat ons maar eerder net stilbly?
Dit lyk vir my ons het ‘n nasie van klaers geword wat mekaar heeltyd vertel hoe sleg dit gaan met ons land, hoe swaar die blanke kry bla bla bla. Die wat nie wegtrek soos ons  voorouers – wat terloops ook nie hul man gestaan het in Europa nie, maar eerder pad gevat het, bly agter en mor onder mekaar.

Kom ons kyk of ons kan saamstaan en gaan registreer om te stem. Stem vir wie jy wil, maar stem net om so jou stem te laat hoor. Eendrag maak mag.

4 Responses sover »

  1. 1

    Adrie said,

    Nee. Ons wil eerder elkeen ons eie beuel blaas.

  2. 2

    Peter Schimke said,

    Weet jy wat, ek het nou perongeluk op jou blog afgekom, en toe ek dit begin lees, dink ek dis moerse lekker om iemand te lees wat so lekker Afrikaans skryf, en ‘n redelike opinie het. Toe lees ek maar verder, en dit noop my om te sê, maar jou aanhoudende aftakeling van emigrante is soos ‘n omgekeerde xenophobia.

    Ek het in 1993 as agtienjarige vir die eerste keer Londen to gekom, het vir twee jaar hier gebly, en is toe terug SA toe, en in die agt jaar wat weer daar was, is Londen al waaraan ek kon dink. My redes?

    Ek was gatvol vir ure lank op die Ben Schoeman sit om tussen Johannesburg en Pretoria heen en weer to kom; ek was moeg van nooit weet wat om aan te trek op ‘n Winter’s oggend want ek weet nie hoe warm dit gaan word nie; die Somers het my broos en uitgeput gemaak, onmenslike hitte en ‘n totale tekort aan lugreëling enigiewers; ure lank wag op telkom om die telefoon te antwoord en ás hulle dan doen, dae lank te wag vir hulle om op te daag; staatsamptenare wat glad nie telefone antwoord nie; miskiete wat my dag en nag opvreet; Pretoriaaners wat tot my verleëntheid weier om Engels te praat met buitelanders.

    Nie een van my redes was polities nie. Die politiese situasie was geensins ‘n faktor in
    my besluit nie.

    Ek woon nou al amper agt jaar in Londen. As ek iets pos kom dit nie net anderkant uit nie, maar dit is sommer al die volgende dag daar. Die treine en die krag werk. Ek reis en sien die Wêreld, met Ponde in my sak en ‘n Europese passpoort. Ek kom ten minste een keer per jaar SA toe. Ek geniet die biltong, die strand, die rustigheid, die stilte, die blou hemel, die groen vlaktes, die lekker vleis. As dit te warm is, gaan swem ek of gaan terug na my hotel kamer toe waar daar lugreëling is. Ek is op vakansie in die mooiste land in die Wêreld, Suid Afrika, ek praat die lekkerste, stoutse, vloeiendste van my vier tale. Maar ek is nie pap en sweterig by die werk of in my kar nie, want ek is op vakansie.

    As ek by ‘n braai is, en ek hoor hoe kerm die arme “whities” oor hoe sleg dinge gaan vir hulle nou dat hulle net een keer ‘n jaar vir ‘n naweek Londen and Parys toe kan vleig om ‘n Meatloaf konsert te gaan sien (dit het regtig gebeur) dan kyk ek rondom my na die goeie lewensstyl, en sê hulle praat strond. Ek voel altyd veilig, en my pêlle uit Engeland voel dieselfde.

    Nie almal wat in die buiteland woon het gevlug van ‘n nuwe politiese party af nie. Elke emigrant wat ooit sy land verlaat het is nie ‘n “slapgat” nie. Vra maar die Hugenote, en die Jode. Want as jy so dink, moet jy emigrante soos Oliver Thambo, Donald Woods en Trevor Huddleston ook inwerk by jou bittere verwyte. Dis ongelooflik moeilik om jou familie, kultuur en taal te verlaat vir iets wat jy nie ken nie, en dis donners braaf om die onbekende in voort te strompel.

    Van jou skrywe kan ek sien jy’s veëls te intilligent om almal in een kraal in te jaag, jy maak ‘n klomp brilliante punte, en skryf lekker, mooi Afrikaans, dit word bederf deur algemene, gemene stellings oor emigrante. En daar is niks so onverdraaglik soos onverdraaglikheid nie.

  3. 3

    Karl said,

    Peter

    Dankie vir jou inset. Ek lees met aandag, maar ek bly ook daagliks in SA. Ek sien hoe die breindrein my kinders se toekoms belemmer deurdat almal wat hier opgelei is, nou elders verpleeg, dokter, onderwys ens ens. Dit sodat hulle op skoon busse en treine kan ry.

    Ja, ek is kwaad vir die veraaiers – die wat landuit gevlug het. Ek mag wees, want ek sien daagliks hoe mense aan die kant sukkel om sin te maak daaruit dat hulle familie net eenvoudig landuit is en hulle sit nou maar hier.

    En dan die houding van die eks Suid Afrikaners – alles is soveel beter, skoner veiliger daar as hier in SA. Ons kry dit, ons hoor dit. Julle woon nou in die Paradys. Gaan nou net asb weg en ondersteun jou nuwe regering met oorgawe. Los ons uit – julle is klaar met ons.
    Hou op om ons koerante te fynkam vir misdaad en dan dit aan die groot klok te hang, moenie ons blogs lees nie, moenie kyk wat ons sterre doen nie – kortom, kyk wat gaan aan in jou nuwe skoon lekker land.

    Julle het gekies, bly nou aan julle kant van die draad. Is dit regtig te veel gevra? Hoekom is alle eks SA mense so kanend op ons blogs, in ons briewe kolomme in ons hare? Ek verstaan dit nie en dit maak my kwaad. Skryf julle ook op Engeland of Australie se blogs so baie oor hoe lekker julle nou bly daar by hulle? Kraak julle julle nuwe regerings ook af – of weet julle nie eens hoe julle nuwe politieke speelveld lyk en werk nie? Of mag julle as buitstaanders in ‘n vremde land nog nie stem nie, net belasting betaal?

    Weet jy presies wat die Day of Remembrance in Engeland regtig is, of dra jy ook maar jou rooi blommetjie om in te voel tussen jou nuwe landsburgers? Verstaan jy al hulle publieke vakansiedae, weet jy wie hulle geskiedenis herdenk?

    Ons trek swaar hier en wil nie elke dag hoor hoe kak ons vorder nie, veral nie vanauit lande waar ons nie wil bly of enige besigheid in het nie.
    Dit is nie haatspraak teenoor julle nie, ook nie onverdraagsaamheid nie – ons wil net hê julle moet heeltemaal vetrek en nie met ‘n kritiese oog oor ons doen en late hang nie. Te veel gevra?

    • 4

      Peter Schimke said,

      Sjoe maar jy is darem kwaai. Soos ek mooi in my skrywe verduidelik het, my kwale met SA is hoofsaaklik die weer, ek vind dit eenvoudig te warm daar.

      Maar ek moet bieg, nee, ek skryf op geen ander blogs nie, toevallig was joune my eerste, en die rede vir dit was jou oorweldigende bitterheid teenoor emigrante. Elke pos wat jy al geskryf het noem hulle in een vorm of ‘n ander. Dit lyk my nie dis hulle wat jou nie wil uitlos nie, dis eerder jy wat nie vir hulle kan loaslaat nie. Miskien as jy bietjie dieper kyk, is dit jou obsessie met die wat aangaan met die lewe, en díe wat iets beters vir hulself en hul kinders soek, beide binne in SA en buite wat so knaag aan jou siel.

      Ons wat in die buiteland woon het net so veel sê in SA, want ek betaal toevallig nogsteeds belasting daar, betaal nogsteeds grondbelasting en water en ligte, en bank kostes, juis omdat baie van ons nog familie het wat nie wil trek nie, en wie ons ondersteun. Ek sê nie alles in die buiteland is maanskyn en rose nie. Ek het ook duidelik gesê ek voel veilig in SA, of was jy te kwaad om mooi te lees? Ek dink SA is wonderlik, ek weet Engeland is nie die hoogpunt van beskawing nie. Tieners word daagliks op busse vermoor. Die ekonomie is in vlarde deur onverantwoordelike banke en slapgat politisie. Die land is in ‘n oorlog ingesleep deur ‘n jammergat premier wat Amerikaanse gat wou lek. Nee, ek kan nie in nasionale verkiesings stem nie, maar my belasting betaal vir my medies en pensioen. Nie ideaal nie, maar beter as niks.

      Ek het as agtienjarige by die Suidafrikaanse ambassade in Londen my dienste geskenk in SA se eerste vrye verkiesing, en dit was ongelooflik. Ek het laas week ure lank in ‘n tou gestaan om te stem in SA se verkiesing. Terwyl meeste Britte nie lus het om te stem as dit bietjie koud is nie. Ek glo sterk in stemregte, en dink dit is elkeen se reg en verantwoordelikheid. Ek hoop nie jy wil dit wegneem omdat dit jou nie pas dat ek stem nie. Dis tog wat lank gebeur het met mans, wat gedink het vroue mag nie stem want dit is nie hulle besigehid wat gebeur het nie. En die voormalige NP het dieselfde van swartes of oosterlinge gedink. Indiers en Chinese was tog mos nie regte Suidafrikaaners volgens hulle nie, want hulle het nie in die land behoort nie. Jy trap baie naby aan die lyn wanner jy sê dit het niks met ons uit te waai nie, en ons moet julle uitlos. Internasionale isolasie is ‘n lelike ding wat jy vra, maar ek is seker daar is mense wat saamstem, soos Mnr Mugabe. Hy wil ook nie hê die Zimbabweërs in die buiteland moet stem nie. Mooi so, kyk waar kry dit jou.

      Ek het ernstig probeer verduidelik dat nie almal wat in die buiteland woon weg is vir politiese redes nie. Partykeer trek mens net daarheen waar dit vir jou lekkerder is, dis nie verrai nie, dis menslike natuur. As dit waar was, sou dit dieselfde wees as om vir al die Zimbabweërs (wit en swart) in SA te sê, boggeroff terug na julle dorre moederland toe, waar die geld niks werd is nie. Of soos om vir al die Gautengers in Kaapstad te sê, jammer ou pêl, ek weet die berg is mooi, en skemerkelkies by die see is lekker, maar gaan terug na jou mynhope toe want dit pas nie my Wêreldbeeld dat jy nie wil bly waar jy gebore is nie. Want hoe ver mag mens trek, volgens jou, voordat jy ‘n verraier is? Is Kaapstad ok, maar nie Maseru nie? Is Springbok goed genoeg as jy daarvan af kom, maar nie as jy van Upington af is nie? Want dan het jy nie meer ‘n sê nie. Waar trek mens die grense, want dis al wat meeste mense skei, mensgemaakte grense, nie naturrlike verskille nie, want as dit die geval was, sou SA in meer as 11 lande in moes skei, en waar trek mens dan die lyne oor die kaart. Wie kry die see en wie die goud?

      Ek is jammer jy voel ons moet julle uitlos. As lede van die ANC nie in die buiteland geveg het vir dit waarin hulle geglo he nie, sou SA nooit die demokrasie geword het wat dit nou is nie. Of ek nou met hulle saamstem of nie, is nie die kwessie nie, maar om Suidafrikaanse burgers wat in die buiteland woon af te skryf is kortsigtig en ‘n vorm van diskriminasie. Ek wil, en sal nie, die vluweel ketting wat my aan my moederland vasbind deursny nie. Hoekom mag ek nie trots wees en lief wees vir die land wat my gekoester het nie. Ek dink nie dinge in SA is hopeloos nie, juis – snaaks genoeg – omdat mense soos jy met passie en belang skryf oor dit waarin hulle glo. SA se demokrasie is opwindend – veel meer as enigiewers in Europa. Ek dink nie die misdaad is verstrengelind nie. Dinge gaan soveel beter in SA as wat dit ooit in die verlede gegaan het op soveel vlakke, dat om op een onaangename probleem to fokus onregverdig is teenoor al die ander vooruitstewings.

      Om te vra dat ons nie krities moet wees oor ons eie land nie is ongelukkig te veel om te vra, want net in kritiese tye is daar verandering, en net deur kritiek, konstruktiewe kritiek, en deur ‘n kruisie te maak by die naam wat ons dink ons opinies en menings verteenwoordig, kan daar verandering en ware demokrasie wees. Daar stem ek met jou heelhartig saam, ware demokrasie lê net oor die horison, soos ‘n mooi, laatmiddag, hoogveld dorderstorm wat alles skoon en nuut los as die son weer uitkom.

      Ek wil nie heen en weer met jou stry nie. Ek sal graag jou antwoord lees, maar sal heelwaarskynlik nie weer vir jou pla nie, want ek dink ons opinies lê te ver uitmekaar uit. Maar glo dit of te nie, ek dink jy skryf ‘n goeie blog, jou punte is sterk en met mening en gevoel gemaak. Op die een punt stem ons nou nie saam nie, maar jy neem die tyd om iets te skryf wat noodsaaklik is, en dit is merkwaardig. Ek wens jou en jou familie ‘n blink toekoms in Suid Afrika toe. Ons wat oorsee is mis baie ons tuiste, en ons sal nooit inpas waar ons is nie, want ons kom uit Afrika uit, en ons sal seker ook nooit weer daar inpas nie, want die Wêreld gaan aan, so ons is seker dwalende “onbehoordendes”. Maar ons gee nog om, nét soos jy, al sit ons nie dag in en dag uit, bakkend, in die stralende Afrika son nie.

      N.S. Ek weet wat die rooi blommetjie verteenwoordig, dieselfde as wat hy verteenwoordig in SA, en nee ek dra hom nie, want ek glo nie ons moet enige oorlog meer glorie gee as wat hy werd is nie. Suidafrikaaners het toevallig ook gesterf in daai oorlog, maar hulle het ook in Angola en Bloedrivier (aan beide kante) geveg en gesterwe, dit beteken nie ek moet die dag glorie gee nie. Oorlog is in my opinie haatlik en onnodig, en ‘n vorm van “penis envy”. ‘n Geval van: my geweer is groter as joune. Hoe vervelig en jammerlik moet die mensdom wees om dood te oes vir ‘n stukkie trots.


Comment RSS · TrackBack URI

Say your words